Die ruiter van Skimmelperdpan

Please share

Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.

Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,
Met ‘n laaste stuiptrekkende krag,
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf,
Op die perd sit die grusame vrag.

Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
Soos die wind yl verbysterd die dier,
Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
En gespan soos ‘n draad elke spier;

By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk …
In die afkopding ken sy haar man …
Met ‘n onaardse geil val sy bleek soos ‘n lyk …
Perd en ruiter verdwyn in die Pan!

Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan,
En vreesagtig by wyle ‘n nagdiertjie huil
By die newelige lig van die maan!

Want by middernag waai daar ‘n wind deur die kloof,
Waai en huil soos ‘n kindjie wat kerm,
En dan jaag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof …
Wie dit sien, roep verskrik: “Heer, ontferm!”

Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;

En dan eensklaps van uit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-wringend gebaar:

“Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom … altyd maar weer
Die galop … die galop … die galop?!”

Die afgryslike klank – nog gehuil nog gelag –
En die perd met die romp van ‘n man …!
Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!

Please share